KWAZULU-NATAL. – ’n Groot brand by China Mall in Springfield, noord van Durban, het Saterdagoggend 14 winkels geraak, waarvan 12 totaal verwoes is.
Die eThekwini-munisipaliteit sê die brand het kort ná 02:00 ontstaan en meer as 25 brandweermanne, ondersteun deur vier noordelike brandweerstasies, is onmiddellik ontplooi. Met aankoms is ‘n intensie vuur in die kompleks aangetref. Ondanks swaar rook, hitte en vinnig ineenstortende strukture, het die reddingspanne ure lank gewerk om die brand onder beheer te kry. Geen beserings of sterftes is aangemeld nie.
Die brandweer, Metropolisie en SAPD was op die toneel om die gebied te monitor, verkeer te reguleer en die openbare veiligheid te verseker. Ondersoekers probeer vasstel wat die brand veroorsaak het.
Vanweë die skade bly die China Mall vir eers gesluit totdat veiligheidsinspeksies, forensiese ondersoeke en opruimwerk voltooi is.







