KWAZULU-NATAL. – Chinese eienaars van sogenaamde uitbuitfabrieke (sweat shops) in Newcastle Industrial Park, het hulleself vandag (Vrydag) in hulle fabrieke toegesluit, toe ‘n gesamentlike multi-departementele inspeksie plaasgevind het. Sommige eienaars het selfs tydens die operasie gevlug.
Volgens die departement van indiensneming en arbeid het die ondersoekspan gedurende die inspeksie duisende onwettige werkers gevind wat op die persele van die kleding- en tekstielfabrieke woon. Hierdie fabrieke werk dikwels sonder om basiese arbeidswette en ander wette van die land na te kom, wat volgens die departement as ‘n gevaar beskou word. Die inspeksie is in samewerking met die polisie, Newcastle-metropolisie en die departement van binnelandse sake uitgevoer, met die portefeuljekomitee oor indiensneming en arbeid as toesighouer.
Die komitee oorweeg om al die groot kledinghandelswinkels wat sake doen met die eienaars van hierdie “uitbuitfabriek,” voor die parlement te laat verantwoording doen. Items met bekende handelsmerke kan op ‘n foto gesien word.








