Christof van der Berg bring Stories en Sterre na Pretoria

Lees ook :

Christof van der Berg, pianis en storieverteller agter Stories en Sterre
Christof van der Berg bring Stories en Sterre na Pretoria.

Ná drie uitverkoopte vertonings in Bloemfontein sit Christof van der Berg sy toer met Stories en Sterre in Pretoria voort.

“Waar lê die goud waarna ‘n mens jou hele lewe lank soek?”

Vir pianis en storieverteller Christof van der Berg het die antwoord op daardie vraag as seuntjie begin ontvou op die soutplaas Witkraal, waar hy een aand saam met sy pa onder die uitgestrekte sterrehemel gelê het. Terwyl hulle besin oor uitgebrande sterre wie se lig nou eers die aarde bereik, vertel sy pa hom die verhaal van die laaste wilde leeu in die Vrystaat en van die verborge goud op Witkraal.

Min kon hy weet dat daardie aand die begin sou wees van ‘n reis wat hom reeds op sestienjarige ouderdom na Hollywood sou neem, waar hy ‘n internasionale klavierkompetisie wen, en later na verhoë regoor die wêreld.

Stories en Sterre in Pretoria

Nou, ná die suksesvolle bekendstelling in Bloemfontein, bring Van der Berg sy aangrypende musiekteaterproduksie Stories en Sterre vanaf 21 tot 29 Augustus na Pretoria.

Stories en Sterre is veel meer as net ‘n musiekvertoning. Dit is ‘n nostalgiese verhaal vol verwondering wat begin onder die sterre van die Vrystaatse soutplaas en lei na glansryke wêreldstede, ontmoetings met onvergeetlike karakters en oomblikke wat die lewe vir ewig verander. Tog bly daar een vraag wat soos ‘n goue draad deur alles loop: “Waar lê die goud begrawe?”

Met sy kenmerkende basstem, virtuose klavierspel en eerlike storievertelling laat Van der Berg gehore lag, stil raak en weer met nuwe oë na hulle eie lewens kyk.

Die reis eindig met die oorspronklike lied In Verwondering, ‘n hoogtepunt wat die hart van die produksie saamvat:

Mag die lig by jou bly,
waar jou pad ook al mag lei.
Mag jy rus in sagte velde.
Mag jou boorde welig blom,
en as die motreën soggens kom,
jou verstom met al haar wonders.

Lof van die FAK

“Ek het Christof van der Berg vir die eerste keer tydens ‘n prestigegeleentheid in Bloemfontein gehoor, waar sy vertolking my diep beïndruk het. Sy stemkwaliteit, emosionele diepte en vermoë om deur musiek eg menslike stories te vertel, het my daartoe gelei om hom vir ‘n optrede by die Voortrekkermonument in Pretoria te nooi. Daardie aand het hy weereens bewys dat hy ‘n buitengewone kunstenaar is, ‘n samesmelting van tegniese uitnemendheid en ‘n egte hart wat elkeen in die gehoor geraak het. In albei optredes het hy die gehoor se voete onder hulle uitgeslaan en ‘n blywende indruk gelaat. Christof se werk is in elke opsig wêreldklas, gekenmerk deur styl, integriteit en besondere musikale vakmanskap,” sê dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK.

Pretoria-vertonings

  • 21 Augustus: Pierneefteater. Besprekings: Jopie Koen, 072 460 5568
  • 26 Augustus: AfriForum Teater. Kaartjies beskikbaar by Tixsa
  • 27 Augustus: Swartskaap Bistro @ Sherwood Lodge. Wynproe, driegangmaal en vertoning. Kaartjies beskikbaar op Webtickets
  • 28 en 29 Augustus: Senotaaf, Voortrekkermonument. Kaartjies beskikbaar op Webtickets

Meer inligting is beskikbaar op www.christofvanderberg.com.

*PERSVERKLARING

Wil jy jou persverklaring publiseer? Kontak [email protected] vir inligting en ‘n pryslys.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief