NOORD-KAAP. – Die Colesberg-polisie het Donderdag omstreeks 05:00 ‘n wenk oor die moontlike vervoer van dwelms op die N1 opgevolg en op dagga ter waarde van ongeveer R12.3 m. in ‘n bakkie beslag gelê. ‘n Buitelander (39) is in hegtenis geneem.
Luidens ‘n verklaring deur kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, was die inhegtenisneming en beslaglegging die gevolg van die vinnige optrede van die polisiebeamptes ná hulle inligting ontvang het oor dwelms wat na die Oos-Kaap vervoer word. Die Isuzu-dubbelkajuitbakkie is naby ‘n vulstasie onderskep en deursoek. Verskeie sakke dagga is tydens die deursoeking agter in die bakkie gevind en die verdagte is in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting binnekort op ‘n aanklag van dwelmhandel in die hof verskyn.
Maj.genl. Nomana Mtukushe, distrikskommissaris van Pixley ka Seme, het die lede vir hulle vinnige optrede geprys en die gemeenskap bedank vir waardevolle inligting oor misdaadbedrywighede. Sy het herhaal dat die gebruik van nasionale roetes vir die vervoer van dwelms nie geduld sal word nie, en dat pogings gedurende die feestyd versterk sal word om dwelmhandel te bekamp.





