Die ontwikkeling van die voormalige De Mond-karavaanpark in Hermanus staan tans dormant weens ’n voortgesette saak in die Hooggeregshof.
Ná ‘n mededingende tenderproses in 2024 is die tender toegeken aan Point Caravan Resort (Edms.) Bpk. Hulle bestuur tans die bestaande subhuurooreenkomste op die eiendom, soos De Vette Mossel en Klein River Lagoon Park.
Daar heers tans onsekerheid oor die ontwikkeling van die voormalige De Mond-karavaanparkprojek in Hermanus, nadat ’n privaat individu, me. E de Kock, in Desember 2024 ’n aansoek gebring het om die tendertoekenning en die huurooreenkoms met Point Caravan Resort (Edms.) Bpk. tersyde te stel.
Luidens ’n verslag wat deur ’n woordvoerder van die Overstrand-munisipaliteit uitgereik is, bly die ontwikkelaar se 45-jaar huurooreenkoms wel van krag. Daar is egter sekere verligtingstoegewings toegestaan, wat beteken dat spesifieke nakomingsvereistes tydelik opgeskort is totdat die regsonsekerheid finaal opgelos is.
Die ooreengekome huur is R117 735,80 per maand (BTW ingesluit), maar daar is verligting aan die huurder (Point Caravan Resort) aangaande die huurbetaling toegestaan. Verder is Point Caravan Resort ten volle verantwoordelik vir die eiendom wat veiligheid en instandhouding insluit.
Luidens die verslag het die ontwikkelaar reeds begin om sekere gebiede skoon te maak. Die munisipaliteit ondersteun die aksie, aangesien dit die brandrisiko’s verminder en sigbaarheid om veiligheiidsredes verbeter. Dit, ten spyte van teenkanting van sommige lede van die publiek rakende die verwydering van plantegroei.
Die saak is tans sub judice, wat beteken dit is onder geregtelike oorweging.
Bron: SABC Nuus





