KWAZULU-NATAL. – Altesaam 20 leerlinge is vanoggend (Maandag) beseer toe ’n minibustaxi van die KwaKhetha-brug in Mpendle afgestort het. Die bestuurder het van die toneel gevlug en word deur die polisie gesoek. Dit is die derde ongeluk in die Umgungundlovu-distrik binne vier dae waarin skoolvervoer betrokke is.
Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder vir vervoer en menslike nedersetting in dié provinsie, sê in ‘n verklaring die LUR, Siboniso Duma, sê die taxibestuurder van vanoggend se ongeluk word gesoek. Die leerlinge van Hoërskool Matomela, Hoërskool Luthando en Laerskool Sthunjwana is vir mediese behandeling na die Gomane-kliniek en Harry Gwala-streekhospitaal geneem.
Duma het aangekondig sy departement gaan saam met die Vehicle Testing Association (VTA) werk om padwaardigheid te versterk en streng inspeksies van minibusse in te stel. Hierdie vereniging is ’n lid van die Retail Motor Industry Organisation (RMI) en verteenwoordig private toetsstasies wat verantwoordelik is vir padwaardigheidstoetse en sertifikate ingevolge die Nasionale Padverkeerswet en SABS 10047.
Duma het die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in KwaZulu-Natal versoek om betrokke te raak by die hantering van ongelukke waarby taxiverenigings betrokke is. Hy het ook verwys na ramings van die Automobielvereniging dat sowat 70 000 minibustaxi-ongelukke jaarliks plaasvind, met taxi’s wat dubbel die ongeluksyfer van ander passasiersvoertuie toon. Volgens Duma sal die vennootskap daarop fokus om operateurs sonder padwaardigheidsertifikate te identifiseer en te verseker dat diegene wat bedrieglike sertifikate uitreik, in hegtenis geneem word. Hy het verder aangekondig dat die samewerking met die VTA in Oktober tydens Vervoermaand amptelik bekendgestel sal word.
Leerlinge is Donderdag in ‘n ander ongeluk dood, terwyl beseerde leerlinge steeds in ‘n hospitaal behandel word.
Lees ook hier onder: