Kimberley rou oor DF Marais, dryfkrag agter Kimberley 4 Kimberley

Lees ook :

DF en Anne-Marie Marais Foto: Louis Botha Fotografie

Kimberley rou oor die afsterwe van DF Marais, ’n sleutelfiguur en dryfkrag agter die Kimberley 4 Kimberley (K4K)-inisiatief, wat Maandagaand 9 Februarie in ’n ongeluk op die R31-roete tussen Daniëlskuil en Ulco oorlede is.

Marais was wyd bekend vir sy praktiese betrokkenheid by padherstelwerk en gemeenskapsopheffing in die stad. Sy gedenkdiens vind vandag om 10:00 by die Word Church in Kimberley plaas.

’n Stad wat deur sy dryfkrag staande gehou is

Kimberley is nie per toeval staande gehou nie — dit is deur die vasberadenheid en dryfkrag van DF Marais staande gehou.

Tussen April 2023 en Januarie 2026 is meer as 2 230 ton slaggat-herstelmateriaal op die stad se padnetwerk aangebring — uitsluitlik vir slaggate. Die stedelike burgerinisiatief Jozi My Jozi het formeel met Kimberley 4 Kimberley saamgespan en erkenning gegee aan die dissipline, leweringsvermoë en langtermyntoewyding agter wat beskryf word as een van Suid-Afrika se mees volgehoue, stadsgelei infrastruktuur-ingrypings.

Huldeblyke stroom in

Elinor Kern van die Mary Oppenheimer Daughters Foundation, wat finansiële steun aan Kimberley 4 Kimberley gebied het, het haar hartseer oor sy heengaan uitgespreek. “I was so heart sore when I heard of DF’s passing. DF was a wonderfully positive and enthusiastic person, so dedicated to his town and its people – he was an inspiration to everyone who met him. His legacy will, without any doubt, continue. Our most sincere condolences to his wife, sons, family and Kimberley 4 Kimberley.”

Anton Uys van Jozi My Jozi het gesê Marais se toewyding en passie het ’n buitengewone impak gehad. “DF was ’n man wie se toewyding, teenwoordigheid en passie ’n buitengewone impak gehad het, nie net op Kimberley nie, maar ook op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. Sy verbintenis tot Kimberley, sy onwrikbare geloof in die stad en sy mense laat ’n nalatenskap wat nie vergete gaan raak nie. Kimberley is danksy hom ’n beter plek.”

“Daar was niks wat vir hom te veel moeite was nie”

Jana Engelbrecht, wat nou saam met Marais aan Kimberley 4 Kimberley gewerk het, beskryf hom as iemand wat altyd ingestaan het wanneer iets gedoen moes word. “DF was nie net ’n kollega en ’n vriend nie, maar hy was ’n helpende hand vir so baie mense. As daar iets was wat uitgesorteer moes word, was DF daar. Daar was niks wat vir hom te veel moeite was nie. Hy het onwrikbaar geglo in die verbetering van sy dorp. Sy stad. Sy nalatenskap. Hy het sy eie tyd, sy eie vakmanskap en sy eie werknemers ingespan om die wêreld ’n beter plek te maak. Sy drome was groot, sy planne oneindig, en sy strewe na verbetering en positiwiteit het nie perke geken nie. Dit waarvoor hy gewerk het, sal ons eer. Elke keer as jy voor jou huis skoonmaak of ’n papier optel of iemand help oor die straat, kan jy weet hy sal glimlag. Elke keer as ons kies om positief te wees, in plaas van negatief, al is dinge moeilik of al lyk dit onmoontlik, kan ons weet hy het iets agtergelaat wat nie uitgevee kan word nie. ’n Legacy. Ons innige meegevoel en simpatie met sy naasbestaandes. Ons harte is saam met julle stukkend.”

DF Marais laat ’n tasbare nalatenskap in Kimberley agter — in ’n ingesteldheid van aksie, verantwoordelikheid, mede-menslikheid en gemeenskapsdiens.

Hy word oorleef deur sy vrou, Anne-Marie, en hul twee seuns.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

One Response

  1. Wat ñ verlies van ñ wonderlike mens met ñ oneindige groot hart. Hy sal voorwaar gemis word. Alle voorspoed en sterkte aan die familie, Kollegas en vriende.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief