Die gevreesde rapport: beloon eerder as straf

Lees ook :

Tienerskap met Stefanie reeksbanner met Stefanie Minnaar

Vrees vir die rapport

Duisende kinders wag elke kwartaal in vrees vir hulle rapport. Nie oor die moontlike swak punte nie, maar oor wat hulle ouers daaroor gaan sê.

Ek is al baie gevra, meestal deur ma’s van hoërskoolseuns, of hulle vir swak punte moet straf. Straf om wat te bereik? Dat straf die kind gaan motiveer om harder te leer? Verseker nie.

Wat stres aan die brein doen

Wanneer ‘n kind moet sit en leer en angstig is oor die uitslag, want hy vrees hy stel sy ouers wéér teleur of word selfs gestraf, skei sy brein kortisol af, ‘n streshormoon. Chroniese stres kan die senuweeselle in die brein beskadig, dit vernietig en selfs die prefrontale korteks, wat vir leer en geheue verantwoordelik is, verklein.

Beloon elke hoër simbool

Liewe ouer, ek wil jou aanmoedig om vanjaar eerder elke hoër simbool of persentasie te beloon. Elke vyf wat ‘n ses geword het, is een rondte Putt-Putt of ‘n visvangekspedisie. Elke persentasiepunt hoër is ‘n roomys, ‘n melkskommel of R50 sakgeld vir die vakansie. En “zip your lips” oor enige swakker punt.

Hoekom beloon werk en straf nie

Leer is altyd stresvol. Maar sal dit nie wonderlik wees as jou kind volgende jaar gaan sit om te leer en opgewonde is oor die moontlike beloning wat wag nie? Die opwinding keer dan die kortisol-vrystelling, en sy brein is in ‘n optimale staat om effektief te leer.

Die gesin kan sommer saam om ‘n tafel aan belonings dink voordat die rapporte uit is. Luister ook na jou kind se voorstelle, natuurlik binne jou begroting.

Wyse woorde oor seuns

‘n Wyse Emile van Zyl het jare gelede vir my gesê ons ma’s moet nie soveel stres op ons seuns sit om ook so akademies te presteer soos die sussies nie. “Want in graad 11, wanneer die seun begin vorentoe kyk, dan wanneer punte vir die eerste keer werklik saak maak, begin die meeste seuns hulle akademie ernstig opneem.”

Mnr. van Zyl, jy was reg op die kol. Philip het al die jare gespot en gesê hoe goed sy punte sou gewees het as hy net soveel tyd op sy boude spandeer het soos Zoe. Maar nou, in graad 11, wanneer punte regtig saak maak, het ons seun sy beste rapport nog.

Dankie, Mnr. van Zyl, vir wyse woorde.

Bron: A-Z Ouerhandleiding (sagteband).

Meer oor Stefanie

Stefanie Minnaar is ‘n pastorale narratiewe terapeut en ‘n neuro-, loopbaan- en welstandsafrigter wat met tieners, studente en soms ouers werk. Sy help met graad nege se vakkeuses en met graad 11 en 12 se loopbaanbeplanning. Sy begelei ook tieners en jong volwassenes om hulle volle potensiaal op persoonlike en professionele vlak te bereik deur middel van lewensafrigting.

Sy is die trotse ma van ‘n 22-jarige dogter en ‘n seun wat in Augustus 21 word. Sy het self die tienerjare (net-net) oorleef om die storie te vertel.

Stefanie is die stigter van die Facebook-groep Ouer-Tiener Harmonie, waar sy onderwerpe op die tafel sit sodat ouers met mekaar kan skakel, raad kan gee en stories kan deel om mekaar deur die (soms) stormagtige tienerjare te help. Sluit gerus aan by die groep, of kontak Stefanie by [email protected].

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief