Ongelukkig kon Suid-Afrika se held nie sy titel-belt behou nie. Tog het hy die respek van sy ondersteuners verdien deur sy houding ná die nederlaag.
Dricus du Plessis se geveg teen Khamzat Chimaev was glad nie so aksiebelaai soos almal verwag het nie. Dit was ’n frustrerende, stadige vyf rondtes op die krytvloer. Khamzat het sy oorheersende stoeivaardighede ten volle benut en Dricus het min antwoorde daarvoor gehad.
Wat hy wel getoon het, was die hart van ’n kampioen. Hy het nooit opgegee of opgehou probeer wen nie. Selfs toe hy verskeie kere vasgepen is in die crucifix-posisie- een van die moeilikste en ongenaakbaarste situasies vir enige vegter – het hy net eenvoudig nie opgegee nie.
Volgens die beoordelaars het Khamzat al die rondtes gewen, en niemand kan werklik daarteen stry nie. Tog was die toeskouers duidelik ontevrede met die wyse waarop hy geveg het. Almal het meer aksie verwag, maar dis ongelukkig hoe die sport soms verloop.
Wat het ons van Dricus geleer?
- Dit is byna onmoontlik om hom te breek – hy is taai en gee eenvoudig nooit op nie.
- Hy kan vyf rondtes lank stoei; sy stamina is dus bo verdenking op alle vlakke.
- Hy bly nederig in ’n neerlaag en gedra homself soos ’n ware kampioen, met of sonder die belt.
In sy onderhoud met Joe Rogan ná die geveg het hy gesê: “Ek sal nie bly lê nie. Ek kom terug, sterker as ooit tevore.”
Selfs Khamzat het hom geloof vir sy gesindheid en gesê dat Dricus waarlik die hart van ’n leeu het, en dat hy die enigste vegter is wat nie bang was om teen hom te staan nie.
Hierdie naweek het nie net Dricus nie, maar die hele Suid-Afrika ’n nederlaag beleef. Tog weet die wêreld nou: ons is dalk neergeslaan, maar ons sal nooit oorwin word nie!