NEW YORK. – Navorsers het pas bevind dat ysterryke selle in ‘n duif se lewer waarskynlik ‘n rol speel in hulle merkwaardige vermoë om rigting te bepaal. Hierdie bevinding is Donderdag in die wetenskapjoernaal Science gepubliseer.
AP het Martin Wikelski van die Max Planck Institute of Animal Behaviour in Duitsland aangehaal: “The magnetic sense has been this mystery for almost 100 years.” Duiwe kan honderde kilometers in ‘n dag aflê en is vir duisende jare deur die mens gebruik om nuus, briefies en militêre boodskappe te vervoer. Navorsers het voorheen gedink die voël gebruik ligsensitiewe molekules in die oë, snawel of binne-oor om rigting te hou.
In ‘n nuwe studie het Wikelski en ander navorsers vir magnetiese leidrade in die voël se organe gesoek en ‘n positiewe teken in die lewer gevind. Gespesialiseerde immuunselle in die lewer breek rooibloedselle af en stoor yster. As daardie immuunselle verwyder word, kan die voël nie sy weg vind nie. Dit was ‘n teken dat die ysterryke selle moontlik ‘n rol speel in duiwe se sin vir rigting.
Bronne: KSat.com, AP





