KWAZULU-NATAL. – Een persoon is dood en twee ander beseer in ’n botsing tussen ’n Volkswagen Polo en ’n Isuzu-bakkie op die M25 in KwaMashu, KwaZulu-Natal, op Saterdag 17 Oktober.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het hulle verskeie oproepe van lede van die publiek oor die botsing ontvang. Reaksiebeamptes is na die toneel gestuur en het die Volkswagen Polo op sy dak aangetref. Een van die insittendes is dood in die voertuig gevind.
Die bestuurder van die wit Isuzu-bakkie is ernstig beseer en in die voertuig vasgekeer. Om 10:24 het brandbestryders van die eThekwini-brandweer-en-reddingsdienste reddingskake gebruik om hom te bevry. ’n Passasier in die bakkie is ook beseer.
Die omstandighede wat tot die botsing gelei het, is nog nie bevestig nie.
Bron: Reaction Unit South Africa (Rusa).