Die VSA se justisiedepartement (DOJ) het duisende dokumente wat met Jeffrey Epstein verband hou, van sy webwerf afgehaal nadat slagoffers gekla het hulle identiteit is bekend gemaak deur foto’s, e-posadresse en ander persoonlike inligting.
Volgens die BBC het prokureurs wat vir Epstein se slagoffers optree, gesê gebrekkige redigering (afskerming) van die lêers wat Vrydag vrygestel is, het die lewens van byna 100 slagoffers “onderstebo gekeer”.
Die DOJ het gesê hy het al die gemerkte lêers verwyder en dat die foute te wyte was aan “tegniese of menslike foute”.
’n Hofverhoor oor die kwessie wat vir Woensdag in New York geskeduleer was, is gekanselleer. Volgens ‘n regter kon die slagoffers en die DOJ die privaatheidskwessies oplos.
BBC Verify het egter onafhanklik bevind dat ’n aantal beelde van identifiseerbare mense Woensdag steeds aanlyn was, ten spyte daarvan dat die Amerikaanse regering die vorige dag verklaar het dat hy die probleem van onvolledige redigering aanspreek.
“Die skade wat aangerig is, is onherstelbaar,” het Brad Edwards, ’n prokureur wat die slagoffers verteenwoordig, in ’n verklaring gesê.
Vier van die beelde wat deur BBC Verify geïdentifiseer is, het gedeeltelik geklede jong vroue getoon, met hul gesigte en liggame wat nie geredigeer was nie.
Bronne: BBC, KSAT





