Sjef en storieverteller Frik de Jager is geen onbekende in die kulinêre bedryf nie en het ‘n huishoudelike naam as kos persoonlikheid geword.
Jy hoor sy stem op RSG se Klets en Kook-program en hy sorg vir langtafelkuiers by sy huis. Hier vermaak hy gaste met ‘n heerlike ete en sy rykdom aan kos- en reis stories. Hy is gereeld te sien as sjef op die kykNET program Met ‘n huppel in die stap en tree as gasspreker en storieverteller by funksies op.
Sunset Books
14 Boekbesprekings in 14 dae! Frik het nie geskroom om hierdie uitdaging aan te pak nie. Sedert hy op 13 Oktober vanjaar in die Wes Kaap gekom het, was dit presies waarmee hy besig was. Van Saldanha tot Vredenburg en Darling tot Durbanville en ook in die Strand, het hy ywerig oor homself en sy boeke gesels.
Dit was ’n vol huis vir Sunset Books in die Strand op 25 Oktober waar Frik sy derde laaste Wes-Kaapse boekbespreking gehou het. Gaste het hulself trakteer met Sunset Books se heerlike koffie en ’n vars soetigheid. Saam met die koffie bedien Sunset Books ’n fyn stukkie fudge. Gaste is ook na die afloop van die boekgesprek bederf met ’n glasie wyn.
Sunset Books is ’n gewilde boek- en koffie winkel in Strand Straat en word deur eienaar Udine Joubert bestuur. Sowat 40 gaste, oud en jonk het die bekendstelling bygewoon. Daar het ‘n gemoedelike atmosfeer geheers. Die gehoor was interaktief, het saam gesels en vrae gevra. “… en dit raak my hart, dit is vir my ’n koestering,” het Frik gesê. Van die gaste het ernstig begin wonder wat van hulle eie ma’s en oumas se kookboeke geword het.



Die gesprek was deur die bekende skrywer, joernalis en vriendin van Frik, Karin Brynard aangebied. Karin, ‘n self-erkende ramp in die kombuis, sê dat Frik al in haar eie kombuis kom kook het.

Storiekos en Koesterkos
Twee boeke in een jaar, dit is wat Frik aan lesers gebring het. Koesterkos se voorganger, Storiekos, is nou een jaar oud en bevat meer stories as sy opvolger. Frik verduidelik dat Storiekos werklik gaan oor die stories, “elke dis het ‘n storie.” Koesterkos bevat 200 resepte en die stories is beperk tot sekere disse en insidente wat die skrywer geraak het.
Storiekos neem jou op ’n reis vanaf die Kaap na Kaïro en van Rusland na Rome. Dit is ‘n reis na resepte met lieflike illustrasies en beskrywings. Moeder se kos kry ere plek in Storiekos.
Koesterkos verteenwoordig ons ma’s, oumas en tannies se resepte en sluit ‘n skoot humor in met wenke vir huisvroue. Dit bring nostalgie en ‘n koesterende onthou terug en bederf die leser met foto’s van handgeskrewe resepte uit sy ma en ouma se resepte boeke. Bekendes soos Liz Meiring, Neels van Jaarsveld, Jannie du Toit en Amanda Strydom deel ook ‘n storie en hulle onthou-resepte van ma of pa.
Die koeksister resep op bladsy 46 sal jou beslis laat gryp na ‘n fyn teekoppie, skinkbord en ‘n oproep na jou gunsteling soettand vriendin.

Frik gesels voorts dat elkeen van hierdie twee boeke so stukkie van homself verteenwoordig. Dit wat hy gehoor het by mense het hy omskep in ‘n boek.
“Tye, geure, smake, emosies, disse om te koester … vir altyd!” – Frik de Jager in Koesterkos
Gunsteling kok
Alhoewel daar nie meer veel familielede vir Frik oor is nie, is hy gesin- en familie vas. Frik daag die stelling – “bloed is dikker as water” uit en sê hy beskou sy vriende as familie. Hy stem saam met die stelling dat vriende juis die familie is wat jy kan kies.
“Niemand kan kers vashou by my ma nie.”
So antwoord Frik beslis op die vraag wie sy eie gunsteling kok is. Hy sê voorts dat hy net sy ma sal uitsonder, maar daar eintlik te veel is om te noem. Frik prys die talent wat die Suid-Afrikaanse kosbedryf oplewer.
Met al sy reise en ervarings is Japan nog ‘n land op sy wens-lys. Alhoewel reis nou duur raak is Japan, die kos en kultuur, iets wat Frik baie interesseer en ‘n land wat hy nog graag sou wou besoek.
Comrades laat hom diep delf
Frik het ‘n interessante lewe en het al baie avonture ervaar. Hy het al verskeie kere die Comrades maraton aangepak, maar onthou sy eerste Comrades baie goed. Vir hom was sy eerste Comrades ,”‘n bevredigende ervaring.” Hy sê voorts dat sy eerste Comrades en die, “voorbereiding en swaarkry”, altyd vir hom sal uitstaan.
In moeilike dae is dit die herinnering en gevoel van daardie prestasie die maatstaaf wat hom aan die gang hou en dat dit iets is wat niemand ooit van hom kan wegneem nie.
Kortverhaal bundel volg
‘n Kortverhaal bundel is volgende op Frik se kerfstok. “Dit sal ‘n ode wees aan al die interessante mense in my lewe,” vertel hy.
Meer wil hy nie weggee nie en sê dat hy net eers ‘n blaaskans wil neem voordat hy daardie taak aanvat. Hy sê voorts dat die lys lank is en hy nog sal moet herkou aan wie se stories hy gaan skryf om in die bundel te kom. Frik glimlag wanneer hy sê dat hy ook nog toestemming moet vra van die mense wie se stories hy graag wil gebruik.
“Ek laat my deur die storie lei, so sal ek weet wie se storie ek gaan gebruik.”
Die onervare kok se probeer
Frik spog dat die resepte in beide boeke maklik genoeg is en die kok kan heerlik eksperimenteer en meng en pas. The proof is in the pudding! ‘n Onervare kok het ‘n resep uit elkeen van die twee boeke probeer.
Uit Storiekos was dit die wafelresep (Storiekos bladsy 12 & 13) en die vertel van storie van Frik se onthou van sy pa. Dié resep, Frik se eie, se inspirasie spruit uit sy kinderdae besoek aan ‘n teetuin in Ramsgate. “Terloops, hierdie teetuin bestaan vandag nog steeds!”, vertel Frik. Dié resep het gepryk op Benjamins, Frik se restaurant in Rosendal in die Oos-Vrystaat, se spyskaart.
Tannie Marie Jooste se handgeskrewe Mieliesouffle (Koesterkos bladsy 154) het gesorg vir vele komplimente aan tafel. Frik skryf dat Tannie Marie sy ma se beste vriendin was vir meer as 70 jaar. Tannie Marie laat Frik sy sorglose kinderlewe op die plaas herroep.
Ten slotte
Beide hierdie resepteboeke bring ‘n nostalgiese, warm gevoel aan die gebruiker en leser. Hierdie boeke hoort nie op ‘n boekrak nie, maar moet eerder pryk op jou koffietafel vir gereeld optel, deurblaai en lees. Die twee gaan hand-aan-hand saam en dit is onmoontlik om ‘n keuse te maak en net een aan te skaf.
Beide boeke is aanlyn, by toonaangewende boekwinkels, by Naledi of direk by die skrywer beskikbaar.

Koop by Frik direk en wees verseker van ‘n getekende boek, met ‘n storie, van Frik. Hy sal dit selfs verniet aan jou Pudo!
E-pos Frik by frikdejager1@gmail.com
Ten slotte het Frik sy dankbaarheid teenoor sy uitgewer, Naledi, en aanhangers uitgespreek. Naledi het ook vanjaar sy 20ste bestaansjaar gevier.
“Ek is baie dankbaar vir al die ondersteuning. Koesterkos het vlerke gekry wat ek nooit verwag het nie.”
Wees verseker dat daar ons nog baie van die talentvolle Frik de Jager gaan sien, lees en hoor.
Maak jou eie stories met koesterkos en skryf gerus daardie resepte neer. Jy skep dalk ’n nalatenskap. Bon appétit!
 
								 
											




