GAUTENG. – Milan Pretorius (6), ‘n gr. 1-leerling van Laerskool Die Poort in Pretoria, het Maandagoggend in ‘n hospitaal aan breinvliesontsteking gesterf. Die skool het sy afsterwe op hulle amptelike blad bekend gemaak.
Nykie Pretorius, Milan se tannie, het talle vrae op sosiale media beantwoord en gesê daar is geen vermoede oor hoe en waar die jong seun siek geword het nie. Sy inentings was op datum. Hy het bloot Sondag siek gevoel, is hospitaal toe en is Maandag oorlede. “Rus in vrede ons liefste, mooiste Milan’ie
ons harte is stukkend & woorde is min maar weet net ons het jou bitter lief! Dankie vir almal se boodskappe, wees asb. geduldig in hierdie tyd, veral met my boetie & B
n Paar vrae wat ek net solank wil antwoord omdat dit gereeld gevra word: Milan is oorlede aan breinvliesontsteking. Hy het al sy inentings gehad. Ons weet nie waar of hoe hy aangesteek is nie. Hy het Sondag begin siek voel, is hospitaal toe & Maandagoggend ongelukkig oorlede.”
Lees die skool se plasing hier onder:
“𝐈𝐍 𝐋𝐈𝐄𝐅𝐃𝐄𝐕𝐎𝐋𝐋𝐄 𝐇𝐄𝐑𝐈𝐍𝐍𝐄𝐑𝐈𝐍𝐆: Dit is met diepe leedwese dat ons kennis geneem het van die onverwagse afsterwe van klein Milan Pretorius, ’n graad 1-leerder van Laerskool Die Poort. Ons Poortjie-harte is seer, en ons innige meegevoel, gedagtes en gebede is by die Pretorius-gesin en almal wat vir Milan lief was. Mag God se genade en liefde julle dra en vertroos deur hierdie ondenkbare moeilike tyd. Rus in vrede, klein Milan. Jy laat pragtige herinneringe en diep spore in die harte van die Poortjies agter. Ons skoolgemeenskap dink met groot deernis en hartseer aan almal wat oor Milan rou.”
Medelye vir die jong seun stroom op sosiale media in.





