MPUMALANGA. – ‘n Toyota Hilux GD-6-bakkie wat in November 2023 in Sandringham in Gauteng as gesteel aangemeld is, is Saterdag naby Emalahleni in die besit van ‘n Mosambieker (37) teruggekry.
Kol. Donald Mdhluli sê inligting van ‘n Hilux wat gesteel en in ‘n verdagte se besit is, is ontvang en ‘n operasie is geloods. Die Hilux met een insittende is op die M4-hoofweg opgemerk, voorgekeer en deursoek. Die polisielede het gesien die nommerplate op die bakkie het ‘n vals registrasienommer. Verdere ondersoek het daarop gedui dit is inderdaad die voertuig wat deur die polisie gesoek word.
Mdhluli sê die verdagte is in hegtenis geneem en vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig, aangekla.
Die verdagte sal vandag in die landdroshof verskyn.

Foto: SAPD





