Grondwethof skrap ouerverlof-wette as ongrondwetlik

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Die konstitusionele hof het Vrydag ’n eenparige uitspraak gelewer waarin dit dele van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA) en die Werkloosheidsversekeringswet (UIF Act), wat kraam- en ouerverlof reguleer, as ongrondwetlik en ongeldig verklaar het.

Die saak is aanhangig gemaak deur Werner en Ika van Wyk, ’n getroude paar van Johannesburg, saam met die organisasie Sonke Gender Justice en die Kommissie vir Geslagsgelykheid. Hulle het aangevoer dat die huidige stelsel vaders benadeel en ouerskap ongelyk reguleer. Vyf instansies, onder meer die Sentrum vir Kinderreg en die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Menseregte, het as vriende van die hof insette gelewer.

Regter Leona Tshiqi, wat die uitspraak namens die hof geskryf het, het bevind dat die betrokke bepalings van die BCEA- en die UIF-wet vaders se rol as ouers marginaliseer, moeders onregverdig die las van kinderopvoeding laat dra en onregverdig onderskei tussen aanneem- en surrogaatouers. “Hierdie verskille is nie rasioneel verbind aan ’n regmatige staatsdoel nie en kom neer op onbillike diskriminasie,” het die hof beslis.

Die uitspraak volg nadat mnr. Van Wyk, ná die geboorte van sy seun, sy werkgewer versoek het om vier maande ouerverlof te neem. Hy is meegedeel dat hy slegs vir tien dae se verlof in aanmerking kom omdat kraamverlof uitsluitlik vir moeders gereserveer is. Hy is gevolglik genoodsaak om ses maande onbetaalde verlof te neem, wat groot finansiële gevolge vir sy gesin ingehou het.

Die hof het bevestig dat alle ouerkategorieë – biologiese ouers, aanneemouers en ouers in surrogaat-ooreenkomste, op gelyke verlof geregtig is. Die huidige beperking in die wet, dat aanneemouers slegs kan aansoek doen vir kinders jonger as twee jaar, is ook ongeldig verklaar.

Die hof het egter die verklaring van ongrondwetlikheid vir 36 maande opgeskort om aan die parlement tyd te gee om die wette reg te stel. Intussen is die volgende tussentydse reëlings in werking gestel:

  • Die huidige vier maande kraamverlof vir moeders bly behoue, maar ouers kan dit nou onder mekaar verdeel.
  • ’n Verdere tien dae ouerverlof, soos bepaal in artikel 25A, word bygevoeg – ’n totaal van vier maande en tien dae.
  • Waar net een ouer in diens is, mag daardie ouer die volle verlof neem.
  • In die geval van geboorte, kry die moeder voorkeur vir die tydperk wat as voorbereiding en herstel ná bevalling dien.
  • Indien ouers nie oor die verdeling saamstem nie, moet die verlof so verdeel word dat elke ouer so na as moontlik aan die helfte van die totale tyd kry.

Wat die UIF-voordele betref, het die hof nie ’n tussentydse wysiging beveel nie, omdat te min inligting oor die koste-implikasies bestaan. Die minister van werkskepping en arbeid moet egter teen ses maande voor die afloop van die 36-maande periode aan die hof verslag doen oor die vordering van nuwe wetgewing.

Die hof het die minister ook gelas om die koste van die aansoek te dra.

Druk hier om die volledige uitspraak te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief