AUSTRALIë. – Die Australiese polisie het 2,7 ton kokaïen – die grootste beslaglegging van dié soort in die land se geskiedenis – uit ’n ondergrondse bunkerkompleks in die weste van Sydney gekonfiskeer.
Die BBC berig die dwelms, geraam op £433 miljoen, is Vrydag in kompartemente gevind wat onder vals vloere in drie skeepsvraghouers op ’n eiendom in Londonderry versteek was.
Twee mans, onderskeidelik 21 en 25 jaar oud, wat na bewering probeer het om van die polisie te vlug, is op die toneel in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ’n kommersiële hoeveelheid onwettig ingevoerde grensbeheerde dwelms. Die twee mans, wat ná hul hofverskyning Saterdag aangehou word, word deur lewenslange gevangenisstraf in die gesig gestaar indien hulle skuldig bevind word.
Die polisie sê die kokaïen is op bevel van ’n georganiseerde misdaadgroep via die klein dorpie Midge Point in Noord-Queensland Australië binnengesmokkel.
Die kokaïen sou in straatverkope meer as A$800 miljoen werd gewees het – geld wat “nie in die sakke van georganiseerde misdaad sal beland nie”, het die bevelvoerder van die Australiese Federale Polisie, Stephen Jay, tydens ’n nuuskonferensie gesê.
Bronne: BBC, CBS News





