THAILAND. – ’n Gyselaarsituasie en skietery is Woensdag by ’n skool in Suid-Thailand aangemeld. Volgens owerhede is die situasie ná ’n paar uur onder beheer gebring en ‘n gewapende man is in hegtenis geneem.
Newsday berig volgens die polisie se Sentrale Ondersoekburo het ’n gewapende man verskeie leerders en onderwysers as gyselaars aangehou, en minstens een leerder is beseer. Owerhede het berig dat die voorval sowat twee uur later onder beheer was, maar geen verdere besonderhede is onmiddellik bekend gemaak nie. Thaise media het berig verskeie mense is beseer, hoewel dit nie amptelik bevestig is nie.
Die gewapende man het glo laatmiddag woedend by die Patongprathankiriwat-skool in die Songkhla-provinsie opgedaag, kort nadat klasse verdaag het. Volgens die provinsiale departement van openbare betrekkinge is skote daarna gehoor.
Die motief vir die skietery is nie onmiddellik bekend nie.
Vuurwapengeweld is nie ongewoon in Thailand nie, wat een van die hoogste vlakke van vuurwapenbesit en vuurwapenverwante sterftes in Asië het, hoewel massaskieterye selde voorkom.
Bronne: Newsday, Bay News 9





