GAUTENG. – ’n Bell 230-helikopter het Dinsdag by die Rand-lughawe neergestort. Die ongeluk het tydens ’n “engine-out” noodgeval-oefening plaasgevind, wat deur ’n vlieginstrukteur en ’n leerlingvlieënier uitgevoer is.
Sisa Majola van burgerlugvaartowerheid sê die bemanning het nie betyds die enjinkrag herstel nie, wat gelei het tot verlies van beheer. Die helikopter het neergestort en omgeslaan. Een bemanningslid het ligte beserings opgedoen, terwyl die ander ernstig beseer is en na ’n hospitaal vervoer is. Die helikopter het groot skade opgedoen.
Die afdeling vir ongelukke- en voorvalondersoeke (Accidents and Incidents Investigations Division – AIID) is na die toneel gestuur om bewyse in te samel, en ’n voorlopige verslag word binne 30 dae verwag.






