Hoe naby laat jy mense toe?

Lees ook :

Een van die bekendste wyshede van Shrek is: “Ogres are like onions. Onions have layers. Ogres have layers.” Dis ’n uitstekende illustrasie en kan net so goed op mense toegepas word.

Dink gou aan mense met wie jy nooit sal assosieer nie, hetsy omdat hulle boos is, of in lande woon wat jy nooit sal besoek nie. Hierdie mense vorm nie deel van die ui nie; hulle is buite die skil.

Die verste laag bestaan dalk uit mense van wie jy bewus is, maar met wie jy nog nooit eens ’n gesprek gehad het nie. Die naaste laag word gereserveer vir die persoon met wie jy die intiemste verhouding het – die een wat die naaste aan jou ooit sal kan kom, selfs iemand met wie jy ’n slaapkamer deel. Ja, ek praat van jou lewensmaat.

Jy sal ook oplet dat hoe nader die lae aan die middel kom, hoe kleiner word dit. Ek kan honderde kennisse hê, maar my binnekring bestaan uit net ’n handjievol mense. Nie enigiemand het die voorreg om so naby aan my te wees en my so goed te ken nie. Ek sê dit glad nie uit hoogmoed nie; dit is hoe dit veronderstel is om te wees. Jy kan nie jou hart, jou geheime en jou kosbare tyd met almal deel nie. Dan stel jy jouself bloot en maak jy jouself onnodig kwesbaar.

Kan dit wat ek sê Bybels wees?

Vir seker. Kom ons kyk na Jesus se vriendekringe:

5 000 – Die massas wat na Sy prediking geluister het

500 – Toegewyde volgelinge aan wie Hy ná Sy opstanding verskyn het

70 – Dié wat Hy opgelei en uitgestuur het om te dien

12 – Die apostels, Sy primêre leierskap

3 – Petrus, Johannes en Jakobus, met wie Hy Sy intense glorie én diepste angs gedeel het deur hulle intieme vriendskap

Laat ek nog ’n voorbeeld gebruik:

Jou buurman, by wie jy gereeld gaan kuier, kry ’n nuwe hond. Elke keer as jy daar kom, speel jy eers ’n bietjie met die hond voordat julle ’n koffietjie drink of doen wat bure nou maar doen. Maar eendag, terwyl julle lekker speel, byt die hond jou skielik dat die bloed spat. Dis ’n hele gedoente, maar jy is nie te ontsteld nie. Dalk was die hond bang, of dalk het jy iets gedoen wat hom geïrriteer het. Tog is jy nou ’n bietjie versigtiger wanneer jy weer met hom speel.

Na ’n tyd gebeur dit weer, maar hierdie keer baie erger. Jy moet hospitaal toe gaan vir steke en selfs ’n klem-in-die-kaak-inspuiting kry. Ná die insident het dinge verander. Jy kuier steeds by jou buurman, maar jy sit nie meer jou voet in sy agterplaas nie. Daardie hond het vir ewig die voorreg verloor om tyd saam met jou deur te bring.

Jy vloek of skel hom nie wanneer jy by die draad verbyloop nie, en jy gooi hom ook nie met klippe nie. Jy bly vriendelik, maar op ’n afstand. Jy sal hom egter nooit weer naby genoeg toelaat om jou weer te kan byt nie.

In my illustrasie van die ui bevind hierdie hond hom nou in die buitenste laag, waar hy vroeër dalk baie nader aan die middel was. In my eie lewe het soortgelyke situasies al met vriende, werkskollegas en selfs familie gebeur. Dit is nie moeilik vir ’n vreemdeling om deel van jou ui te word nie – iemand kan vinnig deur die “range” beweeg en nader aan jou hart kruip. Maar die hartseer werklikheid is dat wanneer daardie posisie eers verloor is, dit byna onmoontlik is om weer terug te keer.

As Christen moet ons vergewe – dit is ononderhandelbaar. Jy vergewe omdat dit tot jóú voordeel is: dit is die sleutel tot jou vryheid. Maar wysheid leer jou om jou binnekring met oorleg te kies, sodat jy vry kan bly. Jy laat nie toe dat bytende honde binne jou grense kom nie; jy hou hulle op ’n afstand vir jou eie veiligheid.

Spreuke 4:23

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief