KWAZULU-NATAL. – ‘n Gesin se hond is Dinsdagoggend tydens ‘n huisroof in Wartburg gesteek. Drie van die vier verdagtes wat glo die huis betree en beroof het, is in hegtenis geneem. Een verdagte wat deur Mi7 National Group vasgetrek is, het elektroniese toerusting in sy besit gehad.
Mi7 National Group sê in ‘n sosialemediaplasing, volgens ‘n gemeenskapsgroep waar inligting gedeel word, is veiligheidsdienste ontbied nadat ’n inwoner hulp vir ‘n huisbraak in aanvang gevra het. Mi7-spanne, saam met ander veiligheidsdiensverskaffers, het hulle dadelik na die toneel gehaas.
Met hulle aankoms op die toneel het die verdagtes gevlug. ‘n Verdagte wat te voet gejaag is, is suksesvol deur Mi-7 in hegtenis geneem en twee gesteelde skootrekenaars is by hom gevind. Nog twee verdagtes is deur ander veiligheidsmaatskappye aangekeer. Slegs een van die verdagtes kon wegkom.
Die hond wat gesteek is, is vir behandeling na ‘n veearts geneem. Geeneen van die huisbewoners is beseer nie.
Die polisie ondersoek die saak verder.





