Moeg vir ‘n koue bed? Ons ken net die plek.
Dit is die uitgangspunt van Jagspinnekop, die nuwe spanningsverhaal van Erla Diedericks wat in Augustus 2026 verskyn.
Smooch is ‘n gewilde platform vir mense op soek na meer. Daar kan jy wees net wie jy wil. Sê net wat jy wil. Flankeer met wie jy wil. Maar Suzette Fourie weet daar is ‘n donker kant aan hierdie interaksies. As profileerder weet sy van die moorde. Vrouens uit die voorstede van Kaapstad. Elkeen ongelukkig met hulle liefdeslewe. Elkeen vermoor en gevind in ‘n veld. Elkeen gemerk met die grillerige kenteken van die moordenaar.
Die media noem hom die Jagspinnekop. En Suzette weet hy gebruik hierdie platforms as sy jagveld. Dis waar hy weerlose vrouens opspoor. En sy aptyt blyk eindeloos.
Nou moet sy hom plattrek voor hy sy tande in die volgende slagoffer kan slaan.
Jagspinnekop is ‘n onheilspellende spanningsverhaal vir die moderne era wat diep onder jou vel in gaan kruip.
Wat maak hierdie boek anders?
- Erla Diedericks is geken vir haar sielkundige rillers, waar sy met die leser se kop smokkel en hulle enduit aan die raai hou.
- Hier is die fokus op moderne dating-programme en hoe hulle totale vreemdelinge toegang tot ons binnekamers kan gee.
- Soos in haar vorige boeke, Salemstraat en Swyg, ondersoek Diedericks ook hier die donker kant van die samelewing wat agter die middelklas se mure skuil.
Weet jy regtig met wie jy praat?
Die skrywer
Erla Diedericks is ‘n joernalis, rubriekskrywer en outeur met meer as 30 jaar ervaring. Sy is geken vir haar aweregse blik op die samelewing en met titels soos Salemstraat, Swyg en Bonsaimeisies het sy haarself gevestig as een van die varsste stemme in plaaslike spanningsfiksie.
Boekbesonderhede
- Titel: Jagspinnekop
- Skrywer: Erla Diedericks
- Publikasiedatum: Augustus 2026
- ISBN: 9781779860668
- Prys: R340.00
- Formaat: 153 x 234 mm
- Bladsye: 280 pp
- Bind: Sagteband
- Kategorie: Spanningsfiksie
- Oplaag: 1500
Koop die boek aanlyn hier.
*PERSVERKLARING
Wil jy jou persverklaring publiseer? Kontak [email protected] vir inligting en ‘n pryslys.





