Hoe ernstig is te ernstig?
Te ernstig is wanneer jou tiener elke beskikbare uur saam met die “liefde van hulle lewe” wil deurbring. Baie ouers wonder waar om die grens te trek met die heen en weer kuier, veral wanneer dinge te ernstig begin raak.
As “dating” op 13-jarige ouderdom beteken om saam middagete te eet, fliek toe te gaan en saam uit te hang, dan is dit nie te ernstig nie. Wanneer jou 15-jarige ernstige geskenke begin koop, soos ‘n hartjievormige hangertjie, of jou vra om hom winkel toe te neem om twee maande “saam” te vier, is duidelike grense nodig.
Stel grense, moenie verbied nie
Om jou tiener te verbied om te “date” lei meermale tot geheime, skelmstreke en rebelse gedrag. Pas eerder die wag-kyk-en-sien-benadering toe. Saam met die vryheid om te kuier stel jy duidelike grense oor waarheen, wanneer en hoe tyd saam deurgebring kan word.
Laat kuiergeleenthede by julle huis toe wanneer jy daar is, en by die ander se huis wanneer jy weet daar is ouertoesig, of by ‘n dans of kuierplek waar jy weet volwasse toesig sal wees.
Koppel kuiertyd aan verantwoordelikheid
Hoeveel tyd jy toelaat hang af van of jou kind op datum is met skoolwerk en sy verantwoordelikhede by die huis nagekom het. As daar uitstaande skoolwerk of afgeskeepte huistake is, plaas ‘n beperking op die kuiertyd totdat alles weer op datum is.
Geskenke en gesprekke
Laat jou kind geskenke van sy eie keuse koop, solank dit sy eie geld is. Gesels oor die geskenke en wat so ‘n geskenk sal beteken. Die kanse is goed dat ‘n duur hangertjie nie gaan beteken dat die verhouding langer hou nie.
Wanneer dit verbygaan
Wanneer die verhouding eindig, wys empatie met jou tiener en luister net. So moeilik soos dit is om jou tiener se hart gebroke te sien, weet net hy leer lewensbelangrike lesse en vaardighede vir toekomstige verhoudings, hartseer en pyn. As volwassenes weet ons dié kalwerliefde hou dalk net ‘n paar maande, maar tienerliefde leer tieners die goed en die sleg waaruit enige verhouding bestaan.
Goeie raad: ontmoet net die ouers van die kêrel of meisie en sien waar hulle bly, maar moenie dan oor en weer begin kuier nie, en veral nie saam op vakansie gaan nie. Hoekom nie? Te veel tieners bly langer in ‘n verhouding omdat hulle nie die volwassenes wil teleurstel nie.
Kry ‘n balans tussen aktiwiteite met toesig en alleen-tyd, sodat daar ook ruimte is vir emosionele ondersoek en groei.
NS! Kyk uit vir rooi ligte wanneer daar ongesonde beheer en jaloesie is.
Bron: Empoweringparents.com.
Meer oor Stefanie
Stefanie Minnaar is ‘n pastorale narratiewe terapeut en ‘n neuro-, loopbaan- en welstandsafrigter wat met tieners, studente en soms ouers werk. Sy help met graad nege se vakkeuses en met graad 11 en 12 se loopbaanbeplanning. Sy begelei ook tieners en jong volwassenes om hulle volle potensiaal op persoonlike en professionele vlak te bereik deur middel van lewensafrigting.
Sy is die trotse ma van ‘n 22-jarige dogter en ‘n seun wat in Augustus 21 word. Sy het self die tienerjare (net-net) oorleef om die storie te vertel.
Stefanie is die stigter van die Facebook-groep Ouer-Tiener Harmonie, waar sy onderwerpe op die tafel sit sodat ouers met mekaar kan skakel, raad kan gee en stories kan deel om mekaar deur die (soms) stormagtige tienerjare te help. Sluit gerus aan by die groep, of kontak Stefanie by [email protected].





