Die Proteas se nederlaag teen Namibië in Windhoek het Vrydag opnuut gewys hoe sterk krieket in Afrika geword het. In hierdie meningstuk voer André van Eck van Worcester aan dat die tyd ryp is vir ’n volwaardige Afrikabeker.
Die Protea-krieketspan se nederlaag die afgelope Vrydag teen Namibië in die driehoekige T20-internasionale reeks wys Afrika se krieketkrag en die potensiaal vir die sport om op die vasteland te groei. Ek glo dit wys ook dat daar plek is vir ’n volwaardige Krieket-Afrikabeker-toernooi.
Die Proteas se rekord praat vanself
Die Proteas is ’n krag in wêreldkrieket en het verlede jaar die 2023–2025 Wêreldtoetskampioenskap gewen. Die span het ook al by verskeie geleenthede die nommer een plek op die wêreldranglys in toets- en witbalkrieket beklee en het in Augustus 2012 geskiedenis gemaak deur die eerste plek in al drie formate van die spel gelyktydig te beklee.
In die korter formate van die spel het Suid-Afrika ook al die eindstryd van die 2024 T20-Wêreldbeker gehaal. Die Proteas het in 1998 die Kampioenetrofee gewen, die goue medalje by die 1998 Statebondspele verower en het reeds vyf keer die halfeindronde van die Krieketwêreldbeker gehaal.
Afrika-bure kan die Proteas klop
Alhoewel die Proteas die onbetwiste krag in krieket op die vasteland is, het hulle al nederlae teen Zimbabwe op die lyf geloop, en Namibië het die Suid-Afrikaners nou reeds twee keer in T20-internasionales geklop.
Hierdie lande het ook al spelers opgelewer wat op internasionale vlak ’n groot impak gemaak het, soos Andy Flower van Zimbabwe, wat as een van die beste kolwer-paaltjiewagters ooit beskou word; Henry Olonga van Zimbabwe, wat tydens sy loopbaan as een van die vinnigste boulers in internasionale krieket beskou is; en Steve Tikolo van Kenia, wat as kaptein sy land na die halfeindronde van die Krieketwêreldbeker in 2003 gelei het.
’n Afrikabeker kan krieket in Afrika laat groei
Die Proteas kan saam met hierdie spanne aan ’n volwaardige 50-boulbeurt-formaat Afrikabeker en ’n T20-Afrikabeker deelneem, wat op ’n twee-, drie- of vierjaarlikse basis aangebied kan word.
Van die kleiner Afrika-spanne kan uitspeel om ook deel van hierdie toernooie te wees en/of in ’n Afrika Liga Twee meeding.
My mening is dat hierdie kompetisies beslis belangstelling in krieket in Afrika kan aanmoedig en die sport die geleentheid kan gee om verder op die vasteland te groei. Dit sal ook verseker dat daar ’n volwaardige kontinentale krieketkompetisie in Afrika plaasvind.
Dit is ook my mening dat só ’n toernooi Afrika kan help om tot ’n top-internasionale krieketkrag te groei.
André van Eck
Worcester
Agtergrond: Afrikabeker reeds op die tafel
Namibië het Vrydag by die Namibia Cricket Ground in Windhoek met 18 lopies teen Suid-Afrika gewen in die openingswedstryd van die driehoekige T20-reeks. Die gashere het 163 vir 9 aangeteken, met Jan Frylinck op 60 en Louren Steenkamp op 41. Suid-Afrika, wat sonder ’n eerstekeuse-span gespeel het en deur Bjorn Fortuin gekaptein is, het op 145 vir 9 vasgeval ten spyte van Dewald Brevis se 75.
Die reeks, wat tot 6 September in Windhoek duur, sluit ook Zimbabwe in en word gesien as die eerste tree na die Afrikabeker, wat volgens die Afrika Krieketvereniging in 2027 van stapel gestuur moet word. Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië is boonop die gesamentlike gashere van die ICC se Eendagwêreldbeker in 2027 – die eerste keer sedert 2003 dat die toernooi na Afrika terugkeer. Die groei van krieket in Afrika staan dus die volgende twee jaar sentraal.
Meningstukke en briewe weerspieël die menings van die skrywer en nie noodwendig dié van Nuusflits nie.
Lees ook: 19de Sporttoekennings – genomineerdes bekend en Besige sportnaweek lê vir Kaapstad-inwoners voor.