WES-KAAP. – ’n Klein gedeelte van die Paarl-hospitaal is vroeër vandag deur ’n brand geraak, maar die vlamme is vinnig in bedwang gebring. Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester van Drakenstein-munisipaliteit, sê in ‘n video-opname (hier onder) ‘n elektriese voertuig wat aan die brand geraak het, het glo die brand veroorsaak.
Robyn Thomson, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, bevestig aan Nuusflits dat personeel saam met die Drakenstein-munisipaliteit se branddienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaslike wetstoepassing vinnig en professioneel opgetree het. Die betrokke gebied en omliggende dele is uit voorsorg ontruim, waarna pasiënte veilig na ander afdelings verskuif is. Geen beserings is aangemeld nie.
’n Ondersoek is tans aan die gang om die omvang van die skade te bepaal, en verdere inligting sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar en bevestig is.





