KYK: Helikopter stort neer tydens brandbestryding by Houtbaai

Lees ook :

Foto: Skermgreep video JP Smith

WES-KAAP. – ’n Helikopter wat deur SANParke gekontrakteer is, het teen ’n berg vasgevlieg en neergestort terwyl dit betrokke was by brandbestryding bo Houtbaai en Constantianek.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad, sê volgens voorlopige inligting het die helikopter se hoofrotor vermoedelik die berg getref voordat dit teen die berghelling neergestort het. Die vlieënier het die voorval oorleef.

Reddingspanne het vinnig gereageer en ’n “Incident Management Team 5” is onmiddellik geaktiveer, met reddingstegnici wat teen die berg opgestuur is om hulp te verleen.

Wetstoepassers is ook ontplooi om die toneel te beveilig totdat die polisie en burgerlugvaartowerheid die ondersoek kon oorneem. Die omvang van die skade en die oorsaak van die ongeluk sal deel vorm van ’n formele ondersoek.

Rdl. Roberto Quintas sê die voorval het omstreeks 19:20 plaasgevind en dat die vlieënier slegs geringe beserings opgedoen het. ‘n Brandspan het aandag gegee aan ‘n sekondêre brand wat deur die ongeluk veroorsaak is.Hy het sy dank uitgespreek teenoor alle nooddienste wat betrokke is en mense versoek om die dienspersoneel in hul gedagtes en gebede te hou, terwyl die vlieënier ’n spoedige herstel toegewens word.

Sisa Majola van die burgerlugvaartowerheid sê aan Nuusflits die ongeluk met die helikopter, ’n Bell UH-1H met registrasie ZU-LCY, het plaasgevind op pad vanaf die Newlands-brandweerbasis in Kaapstad om brande te help blus. Voorlopige inligting van die ongelukke-en-insidente-afdeling van burgerlugvaart (AIID) dui daarop dat die helikopter teen die berg vasgevlieg het, waarna die vlieënier beheer verloor en die helikopter neergestort het. Die vlieënier, die enigste persoon aan boord, het beserings opgedoen en is na ’n hospitaal opgeneem. Die helikopter is in die ongeluk vernietig.

AIID-ondersoekbeamptes is na die toneel gestuur om bewyse in te samel wat in ’n voorlopige verslag ingesluit sal word, wat binne 30 dae verwag word. Majola beklemtoon, in ooreenstemming met internasionale protokolle, sal geen foto’s van die toneel of die name van betrokke persone tydens die ondersoek bekendgemaak word nie.

Nuusflits het SANParke kommentaar gevra.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief