WES-KAAP. – ‘n Kat wat ‘n nag lank aan die bokant van ‘n straatlig in Gugulethu vasgekeer was, is deur insp. Lwazi Ntugnele en brandweerbeamptes van Gugulethu en Roelandstraat gered.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van Cape of Good Hope-DBV sê Ntungele: “In die gemeenskap het mense ’n bietjie paniekerig geraak – sommige het selfs gedink dit is towerkrag. Ek het verduidelik dat die kat moontlik deur honde gejaag is of op die ligpaal geklim het terwyl hy voëls probeer vang het.”
Op die toneel van die gestrande kat het Ntungele die situasie beoordeel en daarna die brandweer se hulp ingeroep. Omdat hulle lere nie lank genoeg was nie, het die Roelandstraat-brandweerstasie met ‘n hysbak opgedaag en die kat na veiligheid gebring. Die kat se gesondheid is deur die NDBV geassesseer. ’n Eienaar het reeds na vore gekom, maar eienaarskap word nog bevestig.
Ntungele bedank die brandweermense van Gugulethu en Roelandstraat vir hul vinnige samewerking en optrede.
JP Smith, DA-burgemeesterskomiteelid, het op sosiale media gesê: ”Onthou hoe brandweermense vroeër katjies uit bome gered het? Ons doen dit steeds – en soveel meer.”
 
								 
											




