Waarskuwing! Die beeldmateriaal kan sensitiewe lesers ontstel
NOORD-KAAP. – ‘n Motorfietsryer (57) is Donderdag ná 12:00 op die N12 naby die Engen-vulstasie buite Kimberley oorlede in ‘n ongeluk tussen sy motorfiets en ‘n vragmotor. Kimberley se polisie-eenheid vir ernstige en geweldsmisdade ondersoek ‘n saak van strafbare manslag. Video-opnames van die voorval is intussen wyd op sosiale media gedeel.
Sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits volgens inligting het die vragmotorbestuurder van Hopetown in die rigting van Kimberley gery, toe die motorfietsryer glo beheer verloor en met die aankomende vragmotor gebots het. Die botsing het veroorsaak dat die vragmotor omgeslaan het. |Die ernstig beseerde motorfietsryer is op die toneel dood verklaar, terwyl die 34-jarige vragmotorbestuurder geringe beserings opgedoen het.
Sers. Melefi Shemane het bevestig die ondersoek na die ongeluk duur voort.
Die Nuusflits-redaksie het ‘n video-opname van ‘n omstander ná die ongeluk ontvang, maar dit word weens die sensitiewe inhoud weerhou. In die opname is die gemutileerde liggaam van die oorledene sigbaar; die enjin ‘n ent verder. Weens die ongeluk het die gras langs die pad aan die brand geraak.





