Riana Nel, geliefde sangeres van vele treffers, het ná vyf jaar haar nuutste album, Sing, uitgereik, ’n projek wat sy beskryf as haar persoonlikste werk nóg.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n verklaring die album bevat sewe snitte, insluitend die titelsnit Sing, Vir Jou, Die Seën (’n duet met Retief Burger), sowel as haar gewilde enkelsnitte Wat Nou?, Ek Wonder, Kies en Laat U Wil, ’n projek wat diep uit haar hart spruit en luisteraars opnuut gaan inspireer.
Nel sê die album weerspieël haar geloof en lewenspad: “Hierdie keer maak ek nie musiek om ander tevrede te stel nie. Ek maak kuns met ’n boodskap. Sing is wat ek doen as my gedagtes begin dwaal, want niks werk so goed soos sing om die stemme stil te maak nie. In dié geval sing ek oor dinge wat vir my saakmaak. En soos Elvis gesê het: ‘As dit gevaarlik is om te praat, sing,'” Riana sê sy voel hierdie keer minder bang. “Daar is ’n generasie wat rigting soek en ek ken die pad,” sê sy.
Die musiekvideo van Sing is deur New Ending Media verfilm en beeld haar innerlike stryd oor selfbeeld uit. Vir Jou spruit uit haar vrae as ma en is, volgens haar, ’n oorgawe aan God.
Met Sing versterk Nel haar plek as een van Suid-Afrika se veelsydigste kunstenaars en beklemtoon sy die verweefdheid van haar musiek, geloof en die boodskap daarin.
Sing kan hier op alle digitale platforme gekry word.