WES-KAAP. – Abigail Kok, van York High School in George, is as die top-matrikulant en ook as die top-presteerder in fisiese wetenskap aangewys. Takunda Muchuweni van Jan Kriel-skool in Kuilsrivier is as die land se top-LSEN-leerling aangewys.
Luidens ‘n verklaring van die departement van onderwys in die Wes-Kaap het die klas van 2025 die hoogste matriekuitslae en Baccalaureus-slaagsyfer ooit in die provinsie behaal. Die matriekslaagsyfer het van 86,6% in 2024 tot 88,2% gestyg, terwyl die Baccalaureus-slaagsyfer van 47,8% tot 49,2% gestyg het, die tweede hoogste in die land.
Die provinsie het ook die tweede hoogste totaal van onderskeidings behaal, met 13 234 kandidate wat 31 220 onderskeidings ingepalm het. Die Wes-Kaap het die hoogste matriekslaagsyfer in wiskunde (73,7%) en die tweede hoogste in fisiese wetenskap (80,6%) behaal. Kandidate met spesiale onderwysbehoeftes het ’n matrieslaagsyfer van 91,9% behaal, met die tweede hoogste Baccalaureus-slaagsyfer landwyd (60,4%).
David Maynier, die minister van onderwys, het verlede jaar se matrieks gelukgewens en hul toewyding en harde werk beklemtoon, sowel as die rol van onderwysers en ouers in hulle sukses.







