GAUTENG. – Nathan Britz van Laerskool Kenmare in Krugersdorp is gedurende November 2025 met T-sel akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer. Sy o.11-maats ondersteun hom en nie net is foto’s deur die skool gedeel waar die seuns hulle hare met groot glimlaggies laat waai nie, maar ook ‘n video waar hulle in ‘n sirkel op hulle knieë om hulle maat bid.
“Ons o.11-rugbyspelers het bymekaargekom om Nathan te ondersteun terwyl hy dapper teen kanker veg. Deur hul hare af te skeer vir ’n goeie doel, wys hulle dat hulle as ’n eenheid staan en dat Nathan nie alleen is nie.” Sylvia Britz, Nathan se mamma, het in die kommentaar-afdeling van die skool se sosialemediaplasing gesê: “Dankie aan elke liewe maatjie en hulle ouers wat hierdie dag so spesiaal gemaak het vir Nathan, hy het dit so geniet om almal weer te sien. Julle is amazing. Ilze Swiegelaar Monique Vermeulen Smith Judith Buchler Clinton Buchler Liezl Combrink en soveel meer ouers.”
Nathan se lewe het drasties met die diagnose verander. Sylvia sê egter dat Nathan selfs nou in die middel van een van die grootste gevegte van sy lewe, ‘n dapper en liefdevolle seun bly. Nathan is passievol oor rugby, ‘n sport wat hom volgens sy ma leer om op te staan ná teëspoed en om met moed en deursettingsvermoë elke uitdaging aan te pak. Sy rugbyspan en die veld is vir hom ‘n plek van vreugde en krag. Hierdie veggees dra hy ook in sy behandeling oor, sê sy.
Die gesin het geen mediese fonds nie, wat die finansiële druk van Nathan se behandeling vererger. Sylvia het ‘n skarebefondsingsprofiel opgestel. Op die profiel skryf sy dat elke donasie, deel en boodskap nie net help met mediese koste nie, maar ook hoop bring en Nathan wys dat hy nie alleen is nie. “Deur Nathan te ondersteun, word jy deel van sy span. Jy staan by ‘n jong seun wat droom om weer op die rugbyveld te hardloop,” sê Sylvia. Sy bedank almal wat gebid, gedeel of ‘n bydrae gemaak het en noem dat die steun vir hulle as gesin van onskatbare waarde is.
Druk hier om meer op die BackaBuddy-profiel te lees.






