WES-KAAP. – Drie klein babahonde is tydens ‘n 13 ure lange reddingspoging veilig deur George-DBV en -munisipaliteit uit ‘n pyp gered en met hulle ma herenig.
George-DBV beskryf die redding as ’n “ongelooflike geluk” aangesien die hondjies veel verder in die pyp kon gewees het. Die pyp moes deur die reddingspan geseël word, nadat iemand daar naby ‘n toilet getrek het. “Gelukkig het die water in die grond geloop en nie in die pyp nie, en die reddingspoging is nie vertraag nie.”
Insp. Pypers, asook veldopleidingsoffisiere Luwayn en Vuyo, is vir hul vasberadenheid bedank, asook die groep mans van die George-munisipaliteit wat die hele dag gewerk het om deur te grawe na die pyp om die hondjies te kon bereik. Die DBV sê sonder hulle samewerking sou die redding nie moontlik gewees het nie. Hulle beskryf die munisipaliteitspersoneel as “ware dierehelde”.
Die hondjies was uiteindelik weer veilig by hulle ma.




