KNYSNA. – Die laaste bekende olifant van die Knysna-woud is onlangs vanuit die lug op kamera vasgevang.
Oupoot, ook bekend as Strangefoot, is sowat ‘n maand gelede deur die plaaslike boer Oubaas Fourie vanuit ‘n vliegtuig afgeneem waar sy alleen deur die digte woud beweeg.
Die beeldmateriaal bied ‘n seldsame kykie na die enigste oorblywende olifant van ‘n bevolking wat eens in die Outeniqua–Tsitsikamma-gebied in hul duisende voorgekom het.
Volgens bewaringsinligting was daar in die 1800’s nog honderde olifante in die gebied. Teen 1900 was daar net sowat 30 tot 50 oor.
Vandag is daar net een.
Oupoot is na raming in 1970 gebore en is nou sowat 55 jaar oud. Sy leef al vir dekades alleen in die Knysna-woud. SANParke se kameravalle het haar sedert 2014 gereeld afgeneem.
Kenners meen die Knysna-woud en omliggende fynbos bied nie genoeg voedingstowwe, veral fosfor, vir normale olifantvoortplanting nie. ‘n Vorige poging in 1994 om jong olifante uit die Krugerwildtuin na die woud te verskuif, was onsuksesvol.
‘n Privaat befondsde plan van R5 miljoen om weer olifante in die gebied te hervestig, is in Oktober 2025 teruggetrek. SANParke doen tans ‘n omvattende risiko-assessering oor moontlike toekomstige stappe.
Oupoot se presiese ligging word nie bekend gemaak nie om haar teen spanning en menslike versteuring te beskerm.





