MPUMALANGA. – ‘n Gr. R-leerling (5) van Laerskool Thanda in die Nkomazi-sirkel is Donderdagmiddag dood toe ‘n busbestuurder ‘n bus teruggestoot en per ongeluk oor hom, wat in ‘n blinde kol was, gery het.
Die Mpumalanga-departement van onderwys sê in ‘n verklaring dit het met groot hartseer van die tragiese afsterwe van die leerling verneem. Die polisie het ‘n saak van strafbare manslag oopgemaak en ‘n ondersoek na die omstandighede van die ongeluk is aan die gang.
Amptenare van die departement se direktoraat vir inklusiewe onderwys en welstand het die skool en die gesin Vrydag besoek om sielkundige en maatskaplike ondersteuning te bied. Senior amptenare van die departement, onder leiding van Lucy Mohane, die hoof van die departement, het die laerskool ook besoek om hulle meegevoel te betoon en om inligting oor die voorval in te win. Van daar sou die afvaardiging die gesin besoek het om ondersteuning aan te beid.
Die departement betuig sy innige meegevoel aan die leerling se familie en skoolgemeenskap.





