Die stryd teen die hoë lewenskoste duur voort terwyl verbruikers sukkel om kop bo water te hou. Inflasie en pryse van basiese goedere en dienste plaas baie druk op huishoudings.
Voormalige statistikus-generaal (StatsSA), dr. Pali Lehohla, het die tendense wat huishoudelike beskikbare inkomste en die hoë koste van lewe beïnvloed, ontleed. “Die regering kan baie doen,” het hy gesê. “Elektrisiteit, water, sanitasie en gesondheid is gebiede waar die regering kan ingryp, maar munisipaliteite het ‘n groot geldbron geword.”
Op ‘n meer positiewe noot, toon die Old Mutual-ondersoek wat jaarliks uitgereik word, ‘n verrassende opwaartse wending. Alhoewel 2023 gekenmerk is deur finansiële stres, dui die huidige verslag aan dat 68% van die bevolking glo hul finansies sal in die komende ses maande verbeter.
Desondanks bly die ekonomiese druk ‘n uitdaging. Verbruikers sal steeds die druk voel terwyl hul op ekonomiese stabiliteit hoop. Die rol van persoonlike finansiële raakgewers sal deurslaggewend wees om individue en gesinne te help om hul finansiële gesondheid in dié uitdagende tyd te verbeter.
Hier is ‘n paar wenke om jou begroting te laat klop:
- Betaal jouself eerste
Sit ‘n gedeelte van jou inkomste weg as spaargeld voordat jy ander uitgawes aangaan. Probeer om minstens 10% van jou bruto inkomste te spaar om ‘n finansiële basis te bou en vir onverwagte uitgawes voor te berei. Om hierdie gewoonte te vergemaklik, kan jy ‘n direkte debietorder opstel wat maandeliks ‘n bedrag na ‘n aparte spaarrekening oorplaas. - Hou jou uitgawes dop
Gebruik ‘n rekenaarprogram of app om elke uitgawe aan te teken. Onderskei tussen noodsaaklikhede (soos huur en kos) en luukshede (soos vermaak en inkopies). Prioritiseer noodsaaklikhede en spaar ‘n voorafbepaalde bedrag voordat jy geld op luukshede bestee. - Herevalueer jou mediese fonds, versekering en bankfooie
Deur jou mediese fonds, versekering en bankfooie jaarliks te hersien, kan jy moontlik duisende rande bespaar. Vergelyk opsies, onderhandel vir beter tariewe, en kyk na goedkoper alternatiewe. - Verminder jou telefoonkoste
Monitor jou telefoonverbruik en vergelyk verskillende pakkette om die een te kies wat by jou gebruik en begroting pas. - Bestuur jou motoruitgawes
Onderhou jou motor gereeld, gebruik die regte brandstof en olie, en vermy om onnodig rond te ry. Oorweeg saamryklubs, openbare vervoer, of ry fiets waar moontlik. - Verlaag jou lewenskoste
Spandeer minder as wat jy verdien en spaar die oorblywende bedrag. Dit help om skuld te vermy en finansiële vryheid te bereik. - Bly weg van skuld
Krediet en lenings kan jou finansiële vryheid beperk. Probeer om nie kredietkaarte of lenings vir onnodige items te gebruik nie en betaal jou rekeninge betyds. - Skep ‘n noodgevalfonds
‘n Noodgevalfonds is ‘n aparte spaarrekening vir onverwagte uitgawes. Spaar maandeliks totdat jy genoeg het om drie tot ses maande se lewenskoste te dek.
Bron: Old Mutual Investment and Savings Monitor; Pali Lehohla, voormalige Statistikus-generaal.