Deur Louise Esterhuizen
Die 10bet Lions het met vyf drieë in die tweede helfte ’n rustydagterstand uitgewis om die Ospreys op 3 Oktober met 35-19 op Ellis Park te klop.
Die Johannesburg-span het ses drieë teenoor die besoekers se drie gedruk en ’n bonuspunt verdien. Dit was hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die Vodacom United Rugby Championship, ná hul naelskraapse 27-26-sege oor Leinster in die eerste rondte.
Lions klop Ospreys ná agterstand teen rustyd
Chris Smith het die telbord met ’n strafskop geopen. Erich Cronjé se drie en Smith se suksesvolle doelskop het die Lions daarna ’n voorsprong van 10-0 besorg.

Die Ospreys het teruggeveg met drieë deur Keiran Williams en Efan Daniel en het teen rustyd met 12-10 voorgeloop.

Vyf drieë ná rustyd
Ná rustyd het die Lions die wedstryd oorgeneem. PJ Botha, Morné Brandon en Boeta Chamberlain het drieë gedruk, terwyl Kelly Mpeku twee keer oorgesteek het. Die tuisspan se oorheersing in die skrums het tot hul sterk tweede helfte bygedra.

Ross Moriarty het die Ospreys se enigste drie ná rustyd gedruk, maar die Lions het die wedstryd met ’n bonuspuntoorwinning afgesluit.
Jukskei-derby op Loftus
Die Lions se volgende uitdaging is die Jukskei-derby teen die Vodacom Bulls op Saterdag 10 Oktober op Loftus Versfeld in die derde rondte van die URC.
Die Bulls het hul eerste wedstryd van die seisoen met 47-13 teen Zebre Parma gewen voordat hulle met 26-22 teen Munster verloor het. Hulle sal in Pretoria hul eerste tuiswedstryd van die nuwe URC-seisoen speel.
Die Lions gaan die derby met twee oorwinnings uit twee wedstryde tegemoet.