Sinopsis:
Nicci de Wee is op die spoor van ’n nuwe booswig en hierdie keer is dit persoonlik. Een van haar eie spanlede word vermis. Die ondersoek sirkel egter sonder sukses rondom wie die misterieuse skim is wat talentvolle vroue so koelkop in openbare plekke teiken. Hy laat hulle oënskynlik in die niet verdwyn … met afgryslike gevolge.
En hoekom bly die klokke so onheilspellend lui? Skakel dit enigsins in met die silwer klokkies wat hulle by die misdaadtonele vind? Nicci word deur angswekkende gebeure nog dieper by die saak ingesleep en haar spanlede word in ’n verbete wedloop teen tyd vasgevang. Is hulle op die spoor van die regte duiwel, of is daar iemand selfs meer sinister agter die gruweldade wat almal tot hul uiterste beproef?
Wyngaard is ’n meester storieverteller en het geen probleem daarmee om die karakters in haar boeke af te maai nie. Kan hierdie dalk Nicci de Wee se finale speursaak wees?
Oor die skrywer: Bettina Wyngaard is die skrywer van Troos vir die gebrokenes (Jan Rabie Rapport-pryswenner), Grietjie se loutering, en die misdaadromans Vuilspel, Slaafs, Jagter en Lokval. Sy is ook ’n geliefde skrywer van menige LitNet-artikel en tans die voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds. Sy het in die regte aan Universiteit Stellenbosch studeer, waarna sy vir baie jare as prokureur gewerk het. Bettina woon in die Overberg.
Kliek hier vir meer inligting: Knal by Wyngaard, Bettina | Penguin Random House South Africa
*ADVERTENSIE
Lees ook: As jy hou van boeke met talentvolle vroue wat misdaad oplos, moet jy Knal deur Bettina Wyngaard lees