SUID-AFRIKA. – Gewapende rooftogte bly onvoorspelbaar en gevaarlik en misdadigers gebruik diwels geweld sonder huiwering. Die belangrikste doel is om so ‘n situasie te oorleef.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) sê om te oorleef, kan veiligheidsriglyne gevolg word om risiko te verminder en lewens te beskerm. Jou lewe is meer werd as enige besittings. Bewuste optrede en gehoorsaamheid aan instruksies is die beste manier om die kans op oorlewing te verhoog. Rooftogte word dikwels deur goed-georganiseerde en gewelddadige groepe uitgevoer.
Misdadigers buit dikwels hierdie tyd ná die feestyd uit, aangesien mense se waaksaamheid afneem en veiligheidsmaatreëls verslap. Handelsentrums, banke, brandstofstasies en klein besighede bly aantreklike teikens, veral wanneer skool-, kantoor- en saketransaksies weer aan die gang kom. Die kombinasie van mensebeweging, finansiële druk en afleiding skep gunstige omstandighede vir misdaad.
Statistieke toon dat die hoë vlakke van geweldsmisdaad wat in Desember ervaar word, dikwels in Januarie voortduur. Hierdie tendens beklemtoon die noodsaaklikheid van volgehoue waaksaamheid en veiligheidsmaatreëls in die eerste maande van die nuwe jaar.
Belangrikste wenke:
- Bly kalm en beheer jou asemhaling.
- Volg presies die instruksies van die oortreders.
- Neem, indien veilig, diskreet kennis van klere, stem, liggaamsbou, voertuie en ander kenmerke.
- Beskerm jouself en ander deur agter bedekte plekke te gaan staan en kinders of kwesbares te beskerm.
- Wees bewus van die uitgang, maar beweeg net as dit veilig is.
- Help ander en waarsku die polisie of veiligheidsdienste nadat die oortreders weg is.
- Gee akkurate inligting oor ligging, beserings, aantal verdagtes, wapens en voertuie.
- Soek mediese en sielkundige ondersteuning, selfs al is jy nie beseer nie.
Vermy:
- Moenie teen die oortreders weerstand bied of hulle konfronteer nie.
- Moenie oogkontak maak wat as ‘n bedreiging gesien kan word nie.
- Moenie jou selfoon tydens die voorval gebruik nie.
- Moenie tydens die aanval weghardloop nie.
- Moenie enige voorwerpe op die toneel aanraak nie, aangesien dit bewysstukke kan wees.
Druk hier om meer te lees.





