GAUTENG. – ’n Man (38) is op 5 Maart in Meyerton in hegtenis geneem nadat die liggaam van sy vrou in ‘n sak in ’n spruit naby Vereeniging gevind is.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die vrou is op 3 Maart as vermis aangemeld. Dit het gevolg op bewerings dat haar man haar met ’n mes aangeval en in hul huis toegesluit het. Toe die polisie by die woning aankom, was die man en vrou egter weg. ’n Soektog is na die paartjie van stapel gestuur en die man is twee dae later met die hulp van die gemeenskapspolisiëringsforum in Vereeniging opgespoor. Volgens die polisie het hy tydens ondervraging beamptes na ’n spruit geneem waar die vrou se liggaam in ’n sak gevind is.
Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hy sal na verwagting vandag (Maandag) in die Vereeniging-landdroshof voorkom. Die polisie het die gemeenskap bedank vir hul hulp met die opsporing van die verdagte en sê samewerking is belangrik in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord.





