MPUMALANGA. – ‘n Meisie (7) se liggaam is Sondag tydens ‘n soektog in ‘n mielieland naby Charl Cilliers aangetref. ‘n Man (21) is op aanklag van moord en vermoedelike verkragting in hegtenis geneem en sal Dinsdag in die hof verskyn.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Sondag van ‘n vermiste kind in kennis gestel. Verskeie polisie-eenhede is ontplooi om na die kind te soek. Tydens die soektog is die meisie se klere naby ’n mielieland gevind, waarna ‘n verdagte in hegtenis geneem is. Volgens die polisie het hy beamptes na ’n mielieland geneem waar die kind se liggaam ontdek is. Lede van private veiligheidmaatskappye, boere en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het ook met die soektog gehelp.
Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Secunda-landdroshof voorkom.




