WASHINGTON. – In ’n seldsame openbare verskyning by die Withuis het die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, gister beslis enige verbintenis met die oorlede finansier en seksoortreder Jeffrey Epstein ontken.
Volgens National Today het sy aanlyn gerugte verwerp dat Epstein haar glo aan haar man, Donald Trump, voorgestel het. Volgens haar is dié bewerings “eenvoudig nie waar nie”.
“Die aansprake wat my aan Jeffrey Epstein koppel, moet vandag tot ’n einde kom,” het sy gesê.
Die presidentsvrou het ook ’n beroep op die Amerikaanse Kongres gedoen om openbare verhore te hou om die aanhoudende spekulasie finaal te beëindig. Sy het verder voorgestel dat oorlewendes van Epstein se misdrywe by sulke verhore aangehoor moet word.
Die uitlating volg nadat berigte na vore gekom het oor ’n vriendelike e-poswisseling tussen Trump en Epstein se medewerker en meisie, Ghislaine Maxwell, wat nuwe vrae laat ontstaan het.
Bronne: National Today, The Independent





