Vandag is dit die middelkind se beurt om raakgesien te word. 12 Augustus is Middelkinddag. Dit is ’n nie-amptelike dag wat daaraan gewy word om die dikwels oor die hoof gesiene kinders tussen die oudste en jongste kinders in ’n gesin te vier en erkenning aan hulle te gee.
Middelkinddag, volgens Calender.cx, vestig die aandag op die unieke eienskappe van kinders wat in die middel van ’n gesin gebore is, soos diplomatieke vaardighede en kreatiwiteit. Studies toon dat hulle dikwels uitstekende vredemakers is, baie onafhanklik is en hoog aangeslaan word wat betroubaarheid, eerlikheid en nederigheid betref. Geboortevolgorde alleen bepaal egter nie ’n mens se persoonlikheid nie- gesinsgrootte, ouderdomsverskille, gesinsverhoudings en individuele temperament speel ook ’n rol.
Die dag is in 1986 deur Elizabeth Walker begin om erkenning te gee aan mense wat voel dat hulle weens hulle geboortevolgorde afgeskeep word.
Baie historiese leiers en bekende figure, soos Abraham Lincoln en Theodore Roosevelt, was middelkinders. Tony Blair, Snoop Dogg, Jennifer Lopez, Sarah Jessica Parker en Katy Perry is almal middelkinders.
Bronne: Calender.cx, Business Insider





