Moordenaar uit eie geledere ná 12 jaar gevonnis

Lees ook :

Foto's: SAPD en NVG

WES-KAAP. – Shaun Romano Keyser is deur die Oudtshoorn-streekhof tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, nadat DNS hom aan die verkragting van en moord op Anna Abrahams (55) van Prins Albert in 2012 gekoppel het.

Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê Keyser het die misdaad 12 jaar lank geheim gehou en beweer dat twee ouer mans hom glo destyds gedwing het om stil te bly. Intussen het hy in dieselfde straat as waar die oorledene gebly het, rondgeloop sonder dat haar familie geweet het haar moordenaar is iemand uit hulle eie gemeenskap.

Volgens die polisie is Abrahams se halfnaakte liggaam op 11 Februarie 2012 omstreeks 07:40 deur ’n lid van die publiek in Buitekantstraat, agter Flippie Daler se huis in Prins Albert, ontdek. Forensiese ondersoeke het bevestig dat sy verkrag is voordat sy gesterf het. Alkoholvergiftiging is aanvanklik as oorsaak van haar dood aangedui. Daar is destyds geen inhegtenisnemings gemaak nie.

In 2024 is Keyser egter vir ’n ander saak vir diefstal in hegtenis geneem en sy DNS is by die laboratorium met dié van die slagoffer verbind. Hy is op 19 Junie 2024 in hegtenis geneem en vir verkragting en moord aangekla.

Hyron Goulding, streekhofaanklaer, het ná bestudering van die dossier ’n tweede mediese mening gevra. Dr. Hurst het in ‘n aanvullende verklaring bevind dat Abrahams se hoë bloedalkoholvlak beteken het dat sy nie in staat was om wettige toestemming tot seks te gee nie. Sy het waarskynlik as gevolg van versmoring gesterf. Hierdie nuwe bevindings het die moordklag versterk. Tydens kruisverhoor is bewys dat Keyser teenstrydige weergawes gegee het en dat sy bewerings oor ander vermeende betrokke persone vals was. Slegs sy DNS is op die slagoffer gevind.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê Daler het alkohol verkoop. DNS-monsters is destyds van die oorledene se liggaam geneem. Keyser is 12 jaar later vir diefstal aangekla en sy DNS is vir analise gestuur. Die toetsuitslae het hom aan Abrahams se verkragting en moord verbind. In sy verklaring het hy beweer dat hy destyds 16 jaar oud was en dat twee ouer persone hom gedwing het om seks met die oorledene te hê, maar hy het ontken dat hy haar doodgemaak het.

Die eerste dokter het bevind dat die oorsaak van dood alkoholvergiftiging was, met ’n bloedalkoholvlak van 0,31 g per 100 ml. Die tweede opinie van dr. Hurst het die staat se saak versterk. Dr. Hurst het verklaar dat persone met ’n bloedalkoholvlak bo 0,31 g per 100 ml uiters bedwelm is en nie by hul volle bewussyn is nie. In so ’n toestand kon die oorledene nie wettige toestemming tot seksuele omgang gee nie. Sy het verder bevind dat daar petechiale bloeding op die hart en longe was, wat op verstikking dui. Volgens haar is die oorledene waarskynlik geforseer om met haar gesig na onder te lê tydens die aanranding en kon sy nie asemhaal nie.

Goulding het in die hof aangevoer dat die beskuldigde genoeg tyd gehad het om enige sogenaamde dreigemente teen hom, of “werklike skuldiges” aan te meld, maar dit nooit gedoen het nie. Daar is beklemtoon dat die saak ’n voorbeeld is van hoe wetenskaplike bewyse en die reg saamwerk om misdade op te los.

Die hof het Keyser tot tien jaar direkte tronkstraf vir verkragting en tien jaar vir strafbare manslag gevonnis.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief