NEDERLAND. – ‘n Ongewone selfverdedigingsproduk, bekend as die “Smurf-sproei” oftewel X-Marker, lok toenemende aandag in Nederland nadat dit as ‘n alternatief vir pepersproei bekend gestel is.
Pepersproei is in Nederland verbode vir gebruik deur Jan Alleman en mag slegs onder sekere omstandighede deur die polisie gebruik word. Smurf-sproei bevat nie ‘n irriterende middel nie, maar spuit ‘n helderblou kleurstof wat ‘n vermeende aanvaller se gesig en klere merk. Die kleurstof kan glo vir etlike dae sigbaar bly, selfs ná verskeie wasse, wat dit makliker maak om ‘n verdagte later te identifiseer. Die produk is ontwerp om verdagtes te merk eerder as om hulle fisiek te stuit en word as ‘n wettige selfverdedigingshulpmiddel bemark.
Dit het egter gemengde reaksies ontlok. Ondersteuners meen dit kan die polisie help om verdagtes op te spoor, terwyl kritici aanvoer dat dit min beskerming bied in ‘n gevaarlike of gewelddadige konfrontasie.
Bronne: Nederlandse Polisie, Personal Safety Products (vervaardiger van X-Marker), AVROTROS Radar





