Maj Genl (dr) Ryno Naidoo, waarnemende Provinsiale Polisiekommissaris van Noord-Wes, het lof uitgespreek vir die buitengewone dapperheid en onbaatsugtige toewyding van lede van die Noord-Wes Provinsiale Duikeenheid en die Vryburg K9-eenheid in die dr Ruth Segomotsi Mompati Distrik, ná swaar reën vloedwaters veroorsaak het wat gemeenskapslede meegesleur het.
Ao. Christo van Heerden, Pieta Lamprechts, Walter Congwane en Johan van Wyk, saam met kapt. Topsie Smit en sers. Moletsane Alfred Moloi van die Vryburg K9 Soek- en Reddingseenheid, werk dag en nag sedert die vroeë oggendure van Vrydag, 1 Mei 2026, toe die eerste noodoproep om ongeveer 03:30 ontvang is. Tot op hede het hulle 10 reddings hanteer en een liggaam herwin.
Tydens hierdie voorvalle is altesaam agt mense suksesvol uit die water gered. Drie van hulle het in Reivillo, Pudimoe en Taung aan boomtakke vasgeklou om te oorleef, terwyl vyf ander gered is nadat die voertuie waarin hulle gery het, deur vloedwaters meegesleur is.
‘n Meisie (12) is oorlede nadat sy Sondagmiddag, 3 Mei 2026, om ongeveer 17:30 in ‘n steengroef by Lokgabeng, naby Mokasa 2-dorp in Taung, gaan swem het. Haar liggaam is Maandag, 4 Mei 2026, gevind.
“Die toewyding, moed en onwankelbare verbintenis wat ons duikers en soek- en reddingslede toon, is ‘n ware weerspieëling van die waardes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hulle het hulle eie lewens in gevaar gestel om ander onder uiters gevaarlike omstandighede te red. Ons bedank hulle vir hulle dapperheid en betuig ons innige meegevoel aan die familie van die jong meisie wat tragies haar lewe verloor het,” het Naidoo gesê.
Veiligheidswenke
Die publiek word weereens versoek om die volgende veiligheidsmaatreëls in ag te neem:
- Moenie ‘n pad oorsteek wat gesluit is omdat water oor die padoppervlak loop nie;
- Voor jy water binnegaan, toets eers die sterkte van die stroom;
- Indien jy in ‘n vinnig vloeiende rivier vasgekeer raak, beweeg met die voete eerste. Dit verminder die risiko van ernstige kop- en lyfbeserings.
Indien jy in water val en nie kan staan of die kant kan bereik nie, doen die volgende:
- Bly kalm;
- Probeer om nie water in te sluk nie;
- Hou jou kop bo die water deur te skop asof jy fietsry, en peddel terselfdertyd met die hande;
- Swem in oop water is veel moeiliker as in die stil water van ‘n swembad. Jy raak vinniger moeg, en dit kan gou tot moeilikheid lei.
- In riviere en mere kan die troebel water dit moeilik maak om mense wat onder die water beland, op te spoor.
- Op ‘n plek met ‘n sterk stroom, byvoorbeeld waar twee riviere ontmoet, kan jy maklik onder getrek en meegesleur word.