MPUMALANGA. – ’n Onderwyser (56) is in hegtenis geneem nadat ’n vrou (45) doodgeskiet en haar dogter (22) in Elukwatini gewond is.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê beamptes het hulle kort ná 02:00 na ‘n klagte van ‘n skietery gehaas. Met hul aankoms het hulle die jong vrou in die straat aangetref met ’n skietwond aan haar voet. Sy het gesê haar ma se manlike vriend het op hulle geskiet. Sy het aangedui dat haar ma ook geskiet is en nie uit die huis kon ontsnap nie. Die ma is in die huis in ‘n plas bloed met ‘n skietwond aan die kop aangetref. Sy is op die toneel dood verklaar, terwyl die dogter vir behandeling hospitaal toe geneem is.
Die verdagte is op aanklagte van moord en poging tot moord in die huis in hegtenis geneem. Daar is op die vuurwapen, wat vermoedelik gebruik is, beslag gelê. Die verdagte sal binnekort op die aanklagte in die Albert Luthuli-landdroshof voorkom.





