Operasie Shanela het in een week tot die inhegtenisneming van 15 637 verdagtes gelei.
Volgens die polisie is 2 521 onwettige buitelandse burgers en 2 078 gesoekte verdagtes tussen 15 en 21 Junie in operasies dwarsoor Suid-Afrika vasgetrek.
Dwelms ter waarde van R3 miljoen is gekonfiskeer, koper ter waarde van R12,6 miljoen is teruggekry en 126 ongelisensieerde vuurwapens is in beslag geneem.
In die Wes-Kaap is ’n 29-jarige vrou en ’n 35-jarige man in Kuils River in hegtenis geneem vir dwelmhandel. In Limpopo het die polisie ses verdagtes in hegtenis geneem en dagga ter waarde van R3 miljoen gekonfiskeer. In Mpumalanga is ’n bakkie met 13 sakke dagga op die R38 onderskep.
Die polisie het ook vervalste goedere ter waarde van R10 miljoen in Bellville gekonfiskeer. By City Deep in Johannesburg is 121 ton gesteelde koper teruggekry.
Ander inhegtenisnemings sluit in 177 vir verkragting, 85 vir moord, 107 vir poging tot moord, 1 162 vir aanranding, 754 vir onwettige drankhandel en 637 vir bestuur onder die invloed van alkohol.
Die polisie het ook op 111 ploftoestelle en 58 gesteelde voertuie beslag gelê.





