GANSBAAI. – Voortdurende vandalisme en diefstal by die Buffeljachts-gemeenskapsaal op die buitewyke van Gansbaai word ten sterkste deur die Overstrand-munisipaliteit veroordeel.
Die dakstruktuur het tydens ‘n ernstige storm op 11 Mei 2026 afgewaai. Sederdien het die gebou ‘n teiken vir misdadigers geword. Volgens die munisipaliteit word die fasiliteit gestroop van waardevolle materiaal en toebehore. Bakstene, vensters, plafonplate, toilette, wasbakke, teëls, loodgieters- en elektriese komponente word van die eiendom verwyder.
Die saal vorm deel van ‘n omheinde munisipale perseel. Die perseel huisves ook die Buffeljachtsbaai-biblioteek en Seesterretjies-kleuterskool.
Wat die vandalisme veral kommerwekkend maak, is dat die fasilitiet in Augustus 2025 die eerste fase van opgraderings teen ‘n koste van ongeveer R700 000 ondergaan het. Die werk sluit buite-verbeterings, plaveisel, die herstel van klammigheid, die vervanging van plafonne en opgraderings aan die ingang met plantbakke van baksteen in.
‘n Saak van diefstal en vandalisme is by die SAPD geopen.
PLede van die publiek en inwoners met inligting word dringend versoek om enige verdagte aktiwiteite of voorvalle van vandalisme en diefstal by die Gansbaai-SAPD aan te meld by 028 384 0200. Aanmeldings kan ook gedoen word via die Municipal Collab Citizen App of deur die Overstrand Munisipale Dienste-beheerkamer te kontak by 028 313 8111.
Bron: Overstrand-munisipaliteit





