GAUTENG. – Die polisie het bevestig die vermiste spazawinkeleienaar, Mazwi Kubheka, is vanoggend lewend gevind nadat hy ‘n maand gelede verdwyn het.
Die 27-jarige Kubheka was op 2 April 2026 op pad om huurgeld vir sy spazawinkel in ‘n bankrekening te deponeer toe hy ontvoer is.
Volgengs die Gauteng-polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, is die ontvoering deel van ‘n saak wat tans nog ondersoek word. Mthombeni het tydens ‘n perskonferensie gesê Kubheka is glo deur ’n motoris naby Carnival City in Brakpan opgelaai. Na bewering is hy daarna na ’n polisiestasie in Vosloorus geneem.
Volgens Mthombeni word Kubheka se verklaring tans nog geverifieer.
Voorlopige inligting dui daarop dat hy vir ’n groot deel van die tyd geblinddoek was en nie volledig kan verduidelik wat met hom gebeur het nie. Hy het aangedui dat hy slegs sy oë oopgemaak het by die plek waar hy aangehou is. Kubheka beweer verder dat hy aangehou is in ’n kamer op die eerste verdieping. Hy sê voorts dat hy deur twee Malawiese burgers bewaak is.
Die inligting wat Kubheka aan polisie verskaf het, het hulle na ’n huis in Kensington gelei.
Ondersoeke duur tans daar voort. Geen inhegtenisnemings is nog bevestig nie, en die polisie waarsku dat die saak steeds ontwikkel namate die ondersoek vorder.
Bron: SABC Nuus





