LIMPOPO. – Majuma Glean Nkuna (38) van Elim Mahonisi is Sondagoggend vroeg in ‘n plas bloed by die hek van Elim-hospitaal, naby Waterval in die Vhembe-distrik, aangetref.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ‘n saak van moord. Die slagoffer is met sigbare beserings dood aangetref, nadat sy glo ’n hewige argument met ’n onbekende man gehad het wat in ’n wit bakkie met ’n onbekende registrasienommer gery het. Nkuna is op die toneel dood verklaar. Die ondersoek duur voort.
Enigiemand met relevante inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Nancy Rikhotso, by 071 481 4413 of 079 894 5467, te bel.




